31 Mei 2021
Polisieduikers het die liggaam van ‘n plaaswerker – wat tydens ‘n aanval vermoor is – uit ‘n kanaal naby Theunissen in die Vrystaat gehaal.
Die polisiewoordvoerder, kolonel Thandi Mbambo sê Ditsebe Lesotho se ligaam is in ‘n kombers toegedraai en met draad aan ‘n trollie vasgemaak waarmee sy liggaam vermoedelik van die huis tot by die kanaal vervoer is.
‘n Lid van die gemeenskap het ‘n verdagte van die toneel af sien vlug en hy is in hegtenis geneem. Sy sê Lesotho het steekwonde aan sy kop gehad en is op sy heup geslaan.
Polisie het op ‘n hamer – wat vermoedelik die moordwapen is – beslag gelê.
Mbambo sê die 30-jarige verdagte is glo deur ‘n gemeenskaplid raak gesien en aan die polisie oorhandig. Die verdagte behoort môre in die hof te verskyn.