Waarskuwing: Die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
8 Oktober 2024
‘n Egpaar van Brandfort in die Vrystaat is tot ses maande gevangenisstraf gevonnis, én hulle moet boonop ‘n boete van R3 000 betaal op aanklagte van dieremishandeling en die verwaarlosing van hulle diere.
Dit kom drie jaar nadat ‘n senior inspekteur verbonde aan die Nasionale Dierebeskermingsvereniging, Duan Matthee die huis van Doortjie en Paul Kruger besoek het om ondersoek in te stel nadat bewerings van verwaarlosing en dieremishandeling aan die lig gekom het.
Matthee het met sy besoek sowat 12 Toy Pomeranian en Yorkshire Terrier-hondjies gevind, wat in haglike toestande moes leef. Hy sê elkeen van die honde het gelei aan een of ander siektestoestand. Hy sê van die hondjies het veltoestande gehad, talle se tande was vrot, en hulle het uit die aard van die saak bytplekke en vlooie gehad.
“Baie van die honde was ondervoed, en het aan chroniese pyne gelei.” Volgens Matthee is die honde se hokke ook nie skoongemaak nie. Volgens Matthee het die egpaar nie die honde aan hom oorhandig sonder ‘n geveg nie. Matthee is met die 12 honde na die DBV in Bloemfontein. Die saak is uiteindelik na drie jaar afgehandel.
Volgens Matthee is Doortjie ook in 2016 deur die DBV aangekeer op aanklagte van dieremishandeling.
Vonnisse van direkte gevangenissstraf is ongehoord wanneer dit by aanklagte van dieremishandeling- en verwaarlosing kom.
Foto’s NSPCA