19 Desember 2024
Die DA se leier in die Vrystaat, Roy Jankielsohn sê dié provinsie se grens met Lesotho hou ‘n ernstige bedreiging vir die provinsie se veiligheid in.
Hy sê misdaad soos moord, brandstigting, mense- en dwelmsmokkelary asook voertuig- vee en weidingdiefstal vier hoogty weens die afwesigheid van ‘n ordentlike grensheining en grensbeheer.
Jankielsohn hou vol dat ‘n span – wat uit verskillende rolspelers soos onder meer die polisie, die weermag, plaaslike GPF’s en burgerlike organisasies bestaan – wondere vir grensveiligheid kan verrig.
Hy het verwys na die sukses wat ‘n saamgestelde taakspan gedoen het vir die bekamping van onwettige mynboubedrywighede en sê daar is iets soortgelyks nodig op die Vrystaatse Oosgrens.