5 Mei 2021
‘n 25-jarige vrou van Mali, in die weste van Afrika het die wêreld aan die gons nadat sy geboorte geskenk het aan nege babas nadat dokters aanvanklik gedink het dat sy net sewe verwag.
Volgens die land se departement van gesondheid het Halima Cisse geboorte geskenk aan vyf dogters en vier seuns, deur middel van ‘n keisersnee.
Reuters berig negelinge is uiters skaars en mediese komplikasies in veelvuldige geboortes soos dié beteken gewoonlik dat sommige van die babas nie hul volle termyn sal bereik nie.
Mali se minister van gesondheid, Fanta Siby sê dit gaan tot dusver goed met ma en babas. Die departement van gesondheid het in Maart besluit dat Cisse spesialissorg nodig het, waarna sy toe na Marokko gestuur is, waar die babas toe ook gebore is.
Hulle sal na verwagting ná verskeie weke terugkeer huis toe.