10 Julie 2024
Die sekretaris van die Nasionale Vergadering, Masibulele Xaso het ‘n voorstel ingedien dat die reëlskomitee die terminologie van die parlement – tesame met die toepassing van reëls wat daarmee verband hou – moet hersien.
‘n Behoefte het ontstaan om sommige benamings te hersien nadat die ANC sy volstrekte meerderheid verloor het tydens die Mei-algemene verkiesing.
Die vorming van ‘n Regering van Nasionale Eenheid het ook tot nuwe eise gelei vir die aanpassing van die parlementêre reëls.
Benamings soos ‘meerderheidsparty’, ‘hoofsweep van die meerderheidsparty’, ‘amptelike opposisie’ en ‘leier van die opposisie’ is tans in onbruik.
Die voorsitter van die subkomitee, Doris Dlakude, het aangedui dat die kwessie op die volgende reëlskomiteevergadering bespreek sal word.