Nuuskommentaar: 26 September 2022
Deur: Werner Human
Daar bestaan sterk aanduidings dat die ANC se steun onder 50% in die volgende nasionale verkiesing gaan daal, wat vir die eerste keer sedert 1994 ʼn koalisieregering daar sal stel.
Vir lank het die ANC nie bedreig gevoel deur enige teenstand nie – hulle regeer immers al straffeloos vir 28 jaar. Maar met die nuutste peilings wat die ANC se steun tussen 38% en 42% plaas, besef selfs hulle topleiers dat dié party se dae van gewaarborgde mag en invloed, getel is.
Met die ANC wat nou hulself tot hervorming verbind, mag daar waardevolle lesse uit die 20ste eeu wees wat verdere insig oor die stand van die ANC bied.
Dit is opgesluit in die idee dat “hervorming” opsigself, die finale spyker in die doodskis van ʼn mislukkende regeringsorde mag wees.
Die historikus, Alexis de Toqueville, het waargeneem dat: “…die mees gevaarlikste oomblik vir ʼn bose regering gewoonlik is wanneer hy begin om homself te hervorm. Die lyding wat geduldig verduur word, en wat onvermydelik is, word ondraaglik sodra dit blyk dat daar ontsnapping kan wees. Hervorming dien dan net om duideliker te openbaar dít wat steeds onderdrukkend is en nou des te meer ondraaglik is.”
Dit was die geval met die Sowjetunie waar die ontslape eertydse sekretaris-generaal, Mikhail Gorbatsjof, in 1985 sekere hervormingsprogramme ingestel het, naamlik Perestroika, oftewel “heropbou”, en Glasnost, oftewel “openheid” en “deursigtigheid”. Gorbatsjof het vanuit die aanname beweeg dat die Sowjetunie se sosialisme hervorm kán word.
Die Poolse vakbond en weerstandsbeweging, Solidariteit, het in ʼn televisieonderhoud – na die val van die Berlynse muur – gesê dat hulle oombliklik geweet die einde is naby toe Gorbatsjof ʼn aankondiging van die hervormingsprogramme gemaak het. “Sowjetunie-sosialisme kan nie hervorm word nie. Sodra jy een steen verwyder tuimel die hele huis ineen,” was hulle kommentaar.
Dit is duidelik dat die ANC nog steeds glo dat die party hervorm kan word en dus val hulle binne die bestek van die lot waarna De Toqueville verwys.
Die Gorbatsjof-ekwivalent is waar Cyril Ramaphosa in 2017 met sy verkiesing ʼn “nuwe dagbreek” – ʼn “new dawn” – aankondig.
Kort daarna was daar ʼn ope uitnodiging aan die publiek om deel te vorm van ʼn nasionale oplossing vir die land se probleme deur die Thuma Mina-inisiatief (menende “stuur my”), en mees onlangs bepleit hy vir ʼn nuwe nasionale konsensus om die ekonomie van die land te red.
En nou, die nuutste: die veldtog vir sy herverkiesing as ANC-president met die hutsmerk, #Renewal2022.
Die stene van die ANC-regeringshuis is reeds rondgeskuif en daar is ook aan dit gekarring. Die gevolgtrekking kan veilig gemaak word dat die ANC nié kan hervorm nie.
Daar moet wel gemeld word dat ʼn verandering in die regeringsorde na die 2024-verkiesing nie onmiddellike herstel waarborg nie.
In die 1956 burgerlike opstande in Hongarye, waar hulle die Sowjet-kommunistiese magte tydelik kon afweer, net om weer deur die Sowjetunie beset te word, het volgehoue en doelgerigte veranderings die deurslag gebied, wat bygedra het tot die val van die Berlynse muur in 1989.
Vandag is Hongarye een van die mees vooruitstrewende en vry lande – los van die greep van ʼn totalitêre staat.
Die antwoord op ʼn sentralistiese staat wat verbrokkel, is ʼn federale bestel waar selfbestuur na gemeenskappe uitgebrei word. Die lig aan die einde van die tonnel is dat teëspoed van die ANC nie permanent hoef te wees nie, en dat daar deur harde werk en genade ʼn nuwe werklikheid gebou kan word.
Foto: Bloomberg