20 Oktober 2023
Die voormalige openbare beskermer, advokaat Busisiwe Mkhwebane is vroeër vandag as EFF-LP in die Nasionale Vergadering ingehuldig.
Dit volg nadat sy haar aan die begin van die week by die party aangesluit het. Sy is ook onlangs uit haar pos as OB verwyder nadat ‘n parlementêre komitee bevind het dat sy onbevoeg is vir haar pos.
Die EFF het in ‘n kort verklaring gesê hulle verwelkom Mkhwebane met ope arms. Hulle het haar verder beskryf as iemand wat reeds vir die grootste deel van haar lewe vir die staat werk, en is toegewyd in alles wat sy aanpak.
Intussen is die president van die Plaaslike Besorgde Inwoners burgerregtegroep, Virgil Gericke ook ingehuldig as parlementslid. Volgens die EFF het Gericke veral belange in ekonomiese vryheid en besef hy die belangrikheid van die kwessie oor grondonteiening.