27 Oktober 2022
Valke het toegeslaan op die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, Matshela Koko, en tesame met sy vrou, Mosima en sy stiefdogter, Koketso Choma op klagtes van korrupsie in hegtenis geneem.
Dit hou verband met ‘n multi-miljard rand kontrak wat ESKOM met die Switserse maatskappy, Asea Brown Bover, kortweg ABB, in 2015 gesluit het.
ABB het ‘n deel van die werk na ‘n plaaslike maatskappy, Impulse International, uitgekontrakteer.
Choma was ‘n aandeelhouer by Impulse International en het dertig-miljoen rand gekry – waarvan ‘n deel na Mosima Koko oorbetaal is.
Die staatskapingskommissie het bevind dat Koko ‘n sleutelrol gespeel het in die Gupta familie se strategie om ESKOM te kaap.
In sy verslag het die voorsitter van die komitee, regter Raymond Zondo aanbeveel dat strafregtelike klagtes teen Koko ondersoek moet word vir sy beweerde aandeel in verskeie verdagte transaksies waarvan die ABB- transaksie en die Guptas se Tegeta-transaksie maar enkeles is.