10 April 2024
‘n 39-jarige voormalige assistentshoof van ‘n skool in Virginië in Amerika word van kinderverwaarlosing aangekla nadat ‘n 6-jarige kind in Januarie verlede jaar ‘n onderwyseres geskiet het.
Die BBC berig dat Ebony Parker agt aanklagte in die gesig staar, omdat sy glo waarskuwingstekens geïgnoreer het dat ‘n kind ‘n vuurwapen by hom gehad het.
Die onderwyseres, Abigail Zwerner verbonde aan die Richneck Laerskool is geskiet, en moes reeds talle operasies ondergaan. Sy dagvaar Parker nou vir $40-miljoen of sowat R700-miljoen vir skadevergoeding.
Volgens Zwerner het sy die assistenthoof ingelig dat die kind in ‘n sogenaamde geweldadige bui is, en dat hy glo dreigemente teenoor ‘n ander kind gemaak het. Sy meen Parker was nie bekommerd nie.
Hoewel ‘n lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik is, is sy volgens die BBC nog nié in hegtenis geneem nie.