16 Oktober 2024
Die voormalige nasionale woordvoerder van die ANC, Pule Mabe, sy vrou Mmatlhekelo, en vyf ander verdagtes het vroeër vandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge verskyn nadat hulle hulself vanoggend aan die Valke se ernstige handelsmisdaad-ondersoekeenheid in Gauteng oorgegee het vir beweerde korrupsie.
Die Valke se brigadier Thandi Mbambo sê die inhegtenisneming volg na ‘n forensiese verslag wat deur die Spesiale Ondersoekeenheid opgestel is oor ‘n R27-miljoen-tender wat in Oktober 2016 uitgereik is.
Die provinsiale departement van landbou en landelike ontwikkeling het dié tender in Maart 2017 toegeken aan Enviro-Mobi, wat driewielmotors sou verskaf vir afvalverwydering, maar die meeste van die goedere en dienste is nooit gelewer nie.
Die sewe verdagtes word aangekla van onder meer bedrog, geldwassery, diefstal, die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.