8 Maart 2022
Die vonnisoplegging van die voormalige student, Sibongile Mani (32) is vroeër vandag in die Oos-Londense landdroshof tot later vandeesmaand uitgestel.
Mani het in Junie 2017 opslae gemaak toe meer as R14-miljoen van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) in haar rekening betaal is. Sy moes R1400 ontvang, maar vier bykomende nulle is per ongeluk by dié bedrag gevoeg.
Mani is in Februarie skuldig bevind aan diefstal nadat sy R818000 van dié geld bestee het voordat NSFAS hulle fout – twee maande later – agtergekom het. Tydens haar vorige hofverskynings het dit aan die lig gekom dat die voormalige student onder meer die geld bestee het op alkohol, sigarette, verskeie elektriese toebehore, linne, speelgoed en geskenkbewyskaarte.
Honderde studente het vanoggend buite die hof bymekaar gekom waar hulle beweer het dat Mani “vervolg word omdat sy arm én swart is.” Mani het buite die hof foto’s saam met haar ondersteuners geneem en wou nie joernaliste se vrae beantwoord nie. Zandisiwe Nyimbana, die Nasionale sekretaris-generaal van die Pan Afrika Studente Beweging van Azania (PASMA) sê Mani word geviktimiseer weens “‘n menslike fout.”
Landdros Twannet Olivier het die vonnisoplegging tot 29 Maart uitgestel omdat die departement van maatskaplike ontwikkeling se voor-vonnisverslag nog uitstaande is.