Nuuskommentaar: 13 Desember 2021
Deur: Hannes Noëth
As daar een geweldige groot dankbaarheid is wat ons in Suid-Afrika moet hê en nooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie is dit die feit dat daar vir ons nog altyd, vanweë die besondere boere wat ons het, voedselsekerheid is.
Ten spyte van misdaad, plaasmoorde, droogtes, ekonomiese uitdagings, natuurrampe en politieke druk was daar nog altyd genoeg kos. Ja, inderdaad is daar gemeenskappe wat swaar kry, gesinne en individue. Maar, deur organisasies en deur projekte was daar nog altyd in Suid-Afrika, selfs na 27jaar korrupte regerings altyd kos om te deel. By tye het in dit in sekere streke maar broekskeur gegaan. Sekere dele van ons land het hulle sewe maer jare beleef, ander weer oorskot, maar die feit dat ons nog altyd genoeg gehad het tussen ons streke en verskillende dele van die land sê iets van die gehalte van ons landbouers, die vermoë wat hulle het en die dankbaarheid wat ons kan hê. ’n Mens is byna te bang om jou ’n situasie in te dink waar daar nie genoeg kos in ’n land is nie, soos wat in baie plekke in die wêreld gebeur.
Toe Kwa-Zulu Natal deur ’n besondere onlustekrisis gaan, toe kon kos geskuif word vanaf verskillende dele in Suid-Afrika. Toe Covid19 ’n harde impak gehad het op baie mense se werksomstandighede, verkoopvermoë en oorlewing, was daar genoeg om te verdeel. Behalwe dit wat verwerk was en verdeel kon word het daar ook vragte en vragte kos, groentes en vrugte direk van die plase na gemeenskappe gegaan.
Met die lieflike reën tans in groot dele van die land is ’n mens dankbaar dat daar vir boere in baie droe omgewings ook weer hoop gekom het om so te produseer dat daar oorvloed is.
Die belangrike wetsontwerp oor grondonteining sonder vergoeding wat hierdie week in die parlement afgewys is is daarom tot groot dankbaarheid. Laat ons boere in vryheid en sonder hindernis kos voorsien en aanhou kos voorsien. Suid-Afrika staan voor baie uitdagings. Covid19 se impak is nog nie naastenby verby nie, die natuur is nie in die hande van ’n mens nie, onluste en die impak daarvan het nog nie deurgewerk nie en politiek hou die boere onnodig besig. Intussen produseer hulle, word geploeg, geplant, gesaai, geoes. En al kom daar uitdagings kan ons sê daar was nog altyd genoeg kos om planne mee te maak. Om alles wat ons beleef te beleef sonder voedelsekerheid sou fataal wees. Daarom verdien ons boere spesiale vermelding, verdien hulle ons erkenning en ons respek. Moet ons hulle eer vir die feit dat daar ten spyte van moeilike uitdagings en baie beproewings nog altyd genoeg voedselsekerheid was sodat ons verskillende omstandighede die hoof kon bied.
Aan die einde van hierdie jaar kan ons terugkyk en inderdaad sien daar was baie uitdagings en daar was baie seëninge, wat ons nie moet miskyk nie, daar was ten spyte van baie dinge genoeg kos. Genoeg om te koop, genoeg om te verdeel, genoeg om planne mee te maak. Dis een ding om te kyk na duisende kinders wat nie kos het nie, en bejaardes, gesinne en individue en planne te probeer maak. Dit is totaal ’n ander saak as daar nie kos in ’n land is om ’n plan mee te maak nie.
Daarom eer ons die boere van Suid-Afrika vir voedselsekerheid.