Nuuskommentaar: 9 Junie 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Die wêreld stuur op ‘n gevaarlike voedseltekort af. Die Verenigde Nasies het verlede week bekend gemaak dat die aantal mense wat ‘n voedseltekort ervaar oor die afgelope twee jaar van 135 miljoen tot 276 miljoen verdubbel het. Die meeste van hierdie mense is op die randjie van algehele hongersnood. Daar is tans wêreldwyd byna 500 miljoen mense wat onsekerheid oor voedselvoorsiening het en wat oor die volgende twee jaar ook voedseltekorte kan begin ervaar. Sedert 2016 het die aantal mense wat voedseltekorte ervaar met 500% toegeneem.
Terwyl ons daagliks hoor oor die verskriklike gevolge van die oorlog in Oekraïne met burgerlikes en soldate wat sterf en infrastruktuur wat vernietig word, is een van die ernstigste uitkring gevolge van die oorlog ‘n versteuring in die globale voedselvoorsieningsketting. Voedselvoorsiening is die afgelope twee jaar reeds deur die Covid-19-pandemie en die ekonomiese gevolge van die pandemie geraak.
Die uitvoer van graan en oliesade uit Oekraïne het die afgelope drie maande grootliks tot stilstand gekom. Rusland se uitvoere van graan word ook bedreig. Saam is dié twee lande verantwoordelik vir twaalf persent van die wêreld se verhandelde kalorieë. Die probleem met voedseltekorte is egter groter as net die oorlog en nog uitdagings wat tot die krisis bydra is stygende pryse, arm lande se finansiële probleme en uitdagings met voedselproduksie weens droogtes en stygende insetkoste.
Die prys van koring het vanjaar reeds met 53% gestyg. Volgens die Verenigde Nasies het wêreldwyse voedselpryse die afgelope twaalf maande met ‘n derde gestyg terwyl die prys van kunsmis met meer as 50% en oliepryse met meer as 60% gestyg het.
Die stygende koste van kunsmis het die afgelope tyd in talle armer lande tot ‘n afname in voedselproduksie gelei. Een van die hoofredes vir die afgelope drie maande se politieke krisis in Sri Lanka is juis dié land se tekort aan buitelandse valuta wat veroorsaak het dat hulle nie meer kunsmis kan invoer nie.
Al hoe meer arm lande verkeer in ‘n ernstige skuldkrisis wat beteken dat ‘n tekort aan buitelandse valuta, om noodsaaklike middele soos voedsel, mee in te voer, ontstaan. Te veel lande regoor die wêreld het die afgelope twee tot drie dekades staat begin maak op voedselinvoere in plaas van plaaslike produksie.
Hongersnood is in verskeie lande reeds ‘n werklikheid. In Kenia, Somalië en Ethiopië sterf daar elke 48 sekondes iemand weens hongersnood. Voedseltekorte is die afgelope paar weke in verskeie lande, veral in Afrika, die Midde-Ooste en Asië aangemeld.
Ryker ontwikkelde lande word egter ook geraak. Selfs in Duitsland het sommige supermarkgroepe verlede week ‘n beperking op die hoeveelheid pasta en meel wat kliënte mag koop geplaas. Ook in ander Westerse lande is daar uitdagings om genoeg produkte betyds op supermarkte se rakke te kry.
Die versteuring van globale voedselvoorsieningskettings, die afname in uitvoere van veral graan uit Oekraïne en Rusland, droogtes in Indië en Afrika, ‘n enorme styging in insetkoste om voedsel te produseer en arm lande se finansiële onvermoë om noodsaaklike middele uit ander lande in te voer gaan nie binnekort verdwyn nie. Voedselsekerheid kan net deur plaaslike produksie verseker word. In Suid-Afrika is dit noodsaaklik dat die plaaslike landboubedryf ondersteun moet word.
Voedseltekorte gaan regoor die wêreld oor die volgende paar jaar tot politieke onstabiliteit en selfs konflik lei. Suid-Afrika kan en moet dit vermy.