28 Januarie 2022
Vier polisiebeamptes, wat aan diens was toe ‘n brand by die parlement in Kaapstad uitgebreek het, is geskors.
Die minister van polisie, Bheki Cele het vroeër vandag die parlement vir die eerste keer toegespreek sedert die brand op 2 Januarie 2022.
Volgens Cele is die beamptes geskors te midde van bewerings dat daar groot fout was met die parlement se kamerastelsel en dat hulle daarom glo nie die gebou deur middel van die kringtelevisie goed genoeg kon dophou nie.
Die hoof van veiligheid en beskerming binne die polisie, Sam Shitlabane het aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê dat ‘n kragonderbreking, 12 dae voor die brand, veroorsaak het dat die video-muur vanwaar die gebou dopgehou word, nie gewerk het nie en die kragopwekkers, wat moes oorneem het geen diesel ingehad nie.