20 Oktober 2021
Vier kinders is na bewering op pad skool toe ontvoer nadat hulle en die motorbestuurder – wat hulle skool toe geneem het – in Bendor, Pietersburg (Polokwane), gekaap is.
Die polisie se woordvoerder in Limpopo, brigadier Motlafela Mojapelo het die voorval bevestig en sê verskeie spanne is ontplooi om deel te neem aan die soektog na die kinders, wat tussen 6- en 15 jaar oud is.
Die provinsiale veiligheidskoördineerder van AfriForum Limpopo, Andries Opperman sê hul is omstreeks 08:30 van die ontvoering ingelig. Volgens hom het ‘n silwer Toyoto Fortuner glo die silwerkleurige BMW, waarin die kinders was van die pad af gedruk.
Volgens ooggetuies het die ontvoerders die voertuig – waarin die kinders gereis het – voorgekeer en die bestuurder se venster gebreek.
Verskeie skote is ook met vermoedelik R5-gewere en pistole afgevuur waarna die verdagtes op die N1 in ‘n noordelike rigting gevlug het.
Die Fortuner waarmee die booswigte met die kinders op die vlug geslaan het is verlate gevind en die bestuurder is na bewering agtergelaat.
Plaaslike media berig dat die kinders se pa ‘n sakeman in die omgewing is. Volgens die teen-misdaadaktivis, Yusuf Abramjee is die vier kinders broers.
Stem vir die Aitsa’s