22 November 2023
Die VF Plus sê hy is oorval met reaksie na ‘n landswye veldtog waarin die publiek genooi is om hul ervarings te deel oor behandeling wat hulle in openbare gesondheidsorginstellings ontvang het.
Die VF Plus parlementslid en hoofwoordvoerder oor gesondheid, Philip van Staden sê mense se reaksie skets ‘n ontstellende prentjie van menseregte vergrype, totale verval in dienslewering en infrastruktuur, asook onbevoegdheid en ʼn minagtende houding van personeel teenoor die lot en lyding van pasiënte.
LEES OOK: DOKTERS HEWIG GEKANT TEEN NGV – ALDUS VERSLAG
Hierdie inligting is vervat in ‘n verslag wat saamgestel is uit honderde klagtes wat vanaf Julie 2022 tot Augustus vanjaar ontvang is waarin die name van 93 openbare gesondheidsinstellings genoem word.
Van Staden sê die VF Plus het die verslag by die Menseregtekommissie ingedien vir verdere ondersoek. Hy meen die verslag bevat ondermeer bewerings van nalatigheid wat in sommige gevalle tot die dood van pasiënte gelei het.
“In een so voorval is ‘n swanger vrou se noodkrete by die Nasionale Distrikshospitaal in Bloemfontein geïgnoreer. Die baba is dood gebore waarna dit voor die geskokte ouers in ʼn mediese afvalsak geplaas en in ʼn afvalhouer gegooi is.”
LEES OOK: VRESE OOR NGV SPOOR MEDICI AAN OM NA KANADA TE VERHUIS
Hy sê hierdie voorval is een van vele. “Die bevindinge dien terselfdertyd as ‘n bewys dat die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gedoem is tot mislukking. Die staat is nie eens in staat om die huidige stelsel te bestuur nie,” meen Van Staden.
Vind die volledige verslag hier.