Die VF Plus meen dit is onaanvaarbaar dat ʼn krisis met die oortydbetaling van munisipale werkers daartoe lei dat noodsaaklike dienste soos die brandweer, verkeersdienste en die instandhouding van krag- en waterinfrastruktuur nie behoorlik gelewer kan word in die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit in Limpopo nie.
Die party sê al hierdie dienste is noodsaaklik en die onderbreking daarvan kan die gesondheid en veiligheid van Mokopane se inwoners bedreig.
Die VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, Stephanie Alberts sê dit is onaanvaarbaar dat die getroue belastingbetalers van Mokopane moet ly onder die finansiële wanbestuur van die munisipaliteit onder ANC-beheer.
Pleidooie aan die munisipaliteit om die krisis van oortydbetaling te behandel, val op dowe ore.
Alberts sê die VF Plus se LPW in die provinsiale wetgewer, Marcelle Maritz, het daarom Limpopo se LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Basikopo Makamu, versoek om dringend in te gryp en druk te plaas op die munisipaliteit om sy verpligtinge teenoor inwoners na te kom.
“Dit is skokkend dat die eens vooruitstrewende munisipaliteit binne ses jaar tot absolute verval bestuur en besteel is,” sluit Alberts af.
Stem vir die Aitsa’s