29 Julie 2024
Die VF Plus eis ‘n dringende ondersoek nadat daar betaal is vir ‘n voetgangerbrug in die Ekurhuleni-metro, wat nooit voltooi is nie.
Die VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metro, Rudolf Herbst sê in ‘n verslag wat voor die metro se komitee vir vervoer, paaie en stormwater gedien het, beweer dié departement dat ʼn voetgangeroorbrug tussen Zonkezizwe en Palmridge teen ʼn bedrag van R206-miljoen voltooi is.
Hy sê ʼn finale voltooiingsertifikaat is selfs aan die verslag aangeheg. Herbst sê die komitee, waarvan die VF Plus deel is, het egter tydens ʼn onaangekondigde oorsigbesoek gevind dat dié oorbrug nooit gebou is nie.
Volgens hom is daar slegs ʼn padbenaderingsteken gevind waar die brug gebou moes word. Hy sê van die R206-miljoen wat aan die projek toegeken is, kon die departement slegs van R14,4-miljoen verantwoording doen. “Die uitstaande bedrag van R191,6 miljoen kon nie verklaar word nie.”
Herbst sê die VF Plus dring daarop aan dat die metro se openbare rekeningekomitee hierdie saak deeglik ondersoek en kwartaalverslae aan die raad lewer oor die vordering van die ondersoek.