27 Oktober 2022
Die VF Plus het vandag klagte by die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor ingedien teen die leier van die EFF, Julius Malema, oor uitlatings wat hy onlangs gemaak het op ’n EFF-konferensie in Kaapstad.
Die party sê op videomateriaal van die toespraak kan duidelik gehoor word hoe Malema mense aanhits om ’n persoon te vermoor wat glo EFF-lede tydens ’n optog by die Hoërskool Brackenfell aangerand het.
Volgens die video-opname het hy onder meer aan die EFF-lede gesê:
“Jy moenie bang wees om dood te maak nie. ’n Revolusie vereis in ’n stadium dat daar doodgemaak moet word want dit is deel van revolusionêre optrede.”
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald sê dit is niks anders as aanhitsing tot geweld en moord nie.
Hy sê Malema oortree ook die Wet op Oproerige Byeenkomste wat ’n strafregtelike misdryf daarstel wanneer mense aangehits word om geweld of enige ander misdaad te pleeg. “Die VF Plus het reeds ’n klag van haatspraak en aanhitsing tot geweld ingedien by die Menseregtekommissie (MRK). Die MRK het te kenne gegee dat hy die aangeleentheid ondersoek.”
Groenewald sê Julius Malema moet verstaan Suid-Afrika is ’n grondwetlike demokrasie en almal is onderhewig aan die land se wette.
“Hy moet ook daarvan kennis neem dat hy nie net kan maak en doen en sê wat hy wil sonder dat daar gevolge is nie.”
♦️Must Watch♦️
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) October 15, 2022
CIC @Julius_S_Malema addressing delegates at the 3rd Western Cape #EFFProvincialPeoplesAssembly
-You want to know what is Racism, and you’re lazy to read it, come to the Cape Metro, you need no literature on racism, you’ll experience it literally and practically pic.twitter.com/yB2ESwWU1j