22 November 2023
Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het vroeër vandag in die Nasionale Vergadering aanbeveel dat die geskorste regter-president van die Wes-Kaap, John Hlophe as regter verwyder moet word.
Hlophe is in Desember verlede jaar deur pres. Cyril Ramaphosa geskors hangende ‘n besluit oor sy toekoms as regter.
Hlophe is in 2021 deur die Regterlike Dienskommissie daaraan skuldig bevind dat hy twee regters van die Grondwethof probeer beïnvloed het om sake waarby oud-president Jacob Zuma betrokke was, in Zuma se guns te laat swaai.
Hlophe het egter kort voor vanoggend se samekoms nog probeer om te keer dat die besluit oor sy toekoms deur die parlement geneem word. Hy het ondermeer aangevoer dat die Regterlike dienskommissie se beslissing onwettig en ongeldig was.
Gedurende vanoggend se sitting is dit slegs die EFF wat die aanbeveling, dat Hlophe verwyder moet word, teengestaan het. Die EFF-LP, advokaat Busisiwe Mkhwebane het aangevoer dat die besluit genadeloos sal wees en meen dit is nie in openbare belang nie.