Nuuskommentaar: 13 Junie 2022
Deur: Johnell van Vollenhoven
Die aflegging van ’n eksamen is verlede week by die Universiteit van Kaapstad (UK) deur ʼn groep radikale makkers ontwrig. Terwyl studente besig was om hulle eksamen af te lê, het ʼn groep betogers die lokaal binnegedring en amok gesaai. Op die beeldmateriaal kon daar gesien word hoe vraestelle en antwoordstelle van die tafels af geruk word.
Ek voel onseker oor wat my die meeste hiervan ontstel; die algehele disrespek en minagting vir die akademie en die jong mense wat poog om iets van hul toekoms te maak, en saam met dit die onvermoë om hulle te steur aan hoe hulle aksies hierdie jong mense se toekoms affekteer? Of die arrogansie van hierdie makkers wat glo dat hulle bo die reg verhewe is?
Suid-Afrika raak vir my toenemend ʼn plek waar pandemonium heers en die lawaaimaker die reg het om ander hulle regte te ontsê net omdat hy die hardste skree en gereed is om selfs gewelddadig te raak om sy punt af te dwing.
Soveel mense word onderdruk. Nie net deur wetgewing, regulasies of ANC-politici wat hul ideologie wil afdwing nie, maar deur radikale groepe en partye wat reg in eie hande neem en tekere gaan, baie maal sonder enige gevolge of vervolging.
In hierdie geval is daar na die tyd klagtes gelê, maar gedurende die wandaad is daar niks gedoen nie en die ontwrigter is toegelaat om amok te saai. Dit is onaanvaarbaar dat sekuriteit en veiligheidstrukture, privaat óf vanuit die staat, passief raak en toekyk hoe onskuldige landsburgers op hierdie wyse hanteer word. Hulle is die werklike slagoffers, maar volgens optrede en gebrekkige stelsels word die oortreder die een wie se regte ten koste van sy slagoffers beskerm word.
Hierdie gebrek aan onmiddellike optrede is egter nie altyd die gevolg van onbevoegdheid nie. Daar is ook ander faktore soos gebrek aan opleiding, wapens en selfs mannekrag; die simptome van ʼn gebrekkige staat wat sy hulpbronne vermors en nie die vermoë het om dit aan te wend om in die basiese behoeftes van sy burgers te voorsien nie.
Veel te doen aan hierdie onreg blyk daar op die oog af nie te wees nie. Die staat neem sy tyd om korrupsie te beveg en sy beleide toon werklik geen verandering in sy ideologie wat al vir die afgelope 28 jaar geen vrugte afwerp nie.
Die antwoord op hierdie vraagstukke lê dan juis eerder in die weg beweeg van die staat en in die skep van outonome gemeenskappe met inisiatiewe wat lei tot privaat instellings en aangeleenthede waartoe makkers soos hierdie nie toegang geniet nie. Ruimtes waar wedersydse respek vir regte en voorregte met samewerking gegun en gebou word, en waar radikale elemente doelbewus uitgehou word sodat groei kan plaasvind.
In Suid-Afrika het identiteit saam met taal en kultuur weggeraak. As gevolg daarvan ook ʼn plek om te behoort en respek te hê vir ander se plekke van behoort. Hierdie warboel van geen doel, kweek onstuimigheid en ongegronde revolusie. Dit hits meer geweld aan en verag elke groep wat vir meer as sy eie selfsug staan.
Dit is om hierdie rede dat die fokus moet terugdraai na die gemeenskap. Die inisiatiewe moet vanuit hierdie geledere kom; ons taal, skole en kultuur moet hieruit beskerm word en ons moet hieruit bou. Bou vir ʼn nou en bou vir ʼn toekoms – nie een waarop ons wag nie, maar een waarvoor ons verantwoording neem en wat ons self bewerkstellig. Want, slegs dít is ons verweer teen hierdie radikale chaos.