Nuuskommentaar: 1 Julie 2022
Deur: Mari Oosthuizen
Skokkende foto’s van die ikoniese landboukollege in Potchefstroom is vandeesweek deur die familieboernetwerk, Saai versprei.
Studente, wat vir die plaaslike inwoners bekend staan as die Pampoenboere, kla oor die verval van die kollege se geboue en die proefplaas en meen die instandhouding het so ver agter geraak dat dit ‘n onveilige omgewing skep.
Rommel word gestrooi, bossies staan hoog, die gebou kan doen met ‘n nuwe laag verf én diere is brandmaer.
Die hartseer werklikheid is egter dat hierdie verval nié beperk is tot die lanboukollege nie, maar vir sóveel geboue in Suid-Afrika. Landmerke wat eens trotse bakens was, is dikwels ontoeganklik, onveilig en onherkenbaar vervalle.
Een so gebou is die Carlton Hotel in die Johannesburgse middestad, wat eens op ‘n tyd geag is as die beste hotel in Afrika. Dit staan egter reeds vir die afgelope twintig jaar leeg en verlate – heel waarskynlik ‘n dak oor die kop van haweloses.
Die presidensiële suite, wat eens voormalige staatshoofde gehuisves het, se houtvloere is nou ‘n kweekhuis vir plante.
Nog een van die land se mees ikoniese geboue, die Paleis van Justisie op Kerkplein in Pretoria word nie onderhou nie, bossies groei hoog en die plein se eens pragtige grasperk, kry ook geen aandag nie.
Is dit regtig die pragstukke waarmee ons wil spog wanneer internasionale toeriste daarop aandring om “oom Paul” op Kerkplein te besoek?
En, om dan nie eers te praat van stadsale, begraafplase en stede se hoofstrate nie.
Die sanger Herman Kleinhans skryf: “Ek wonder of ons al die skade kan terugdraai? So kom ons staan nou werklik bymekaar, voor die wêreld hierso om ons vergaan. Dis die eerste ding wat saak moet maak…”
Hoewel hy verwys na die natuur kan hierdie vers wel ook geld vir ons mensgemaakte omgewing, want dit gaan nie noodwendig net oor die fisiese gebou nie, maar oor die herinneringe wat daardie gebou saam met hom dra.
Hoe gaan ons nageslagte werklik verstaan waarheen hulle op pad is, as hulle nie kan sien waar ons vandaan kom nie? Gaan daar nog ‘n stadsaal in Bethlehem se hoofstraat wees om te kan wys waar die dorp se matrikulante elke jaar die einde van hulle skoolloopbaan gevier het? Gaan die ikoniese Bult in Potchefstroom nog veilig wees om ons jeug te herleef?
As die regering nie ons geboue, landmerke en bakens gaan onderhou nie, wie gaan dit doen? Gaan Suid-Afrikaners – soos met die slaggate en sypaadjies – genoodsaak word om self bossies uit te trek en ‘n verfkwas nader te trek?
Foto’s: Annelise Lange