24 Junie 2021
‘n Verslag oor die onlangse verwoestende brand in Kaapstad is vrygestel en het bevind dat dié reuse veldbrand, opsetlik gestig is.
Die brand is, luidens die verslag in April vanjaar met opset in die Tafelberg Nasionale Park gestig – nié deur ‘n hawelose persoon nie, maar waarskynlik deur iemand in ‘n voertuig. Groot dele van dié park asook van die Universiteit van Kaapstad is weens die brand verwoes.
Die Suid-Afrika nasionale parke – SANParke – sê twee aparte ondersoeke is begin om die oorsaak te bepaal asook die omvang van die skade.
LEES OOK: TWEE ONDERSOEKE GELAS NA VERWOESTENDE BRAND IN KAAPSTAD
Volgens ‘n brandkenner van Enviro Wildfire Services, Rob Erasmus het kringtelevisie-beeldmateriaal ‘n motor vasgevang, wat in die gebied geparkeer is, nét voordat die brand begin het. Die persoon in die motor gooi dan vermoedelik iets uit die motor.
‘n Beloning van R10 000 rand is uitgeloof vir inligting oor die motor en sy eienaar.
Erasmus sê inligting oor die voertuig en die hoeveelheid insittendes word nog nie bekend gemaak nie omdat die ondersoekers enige inligting, wat moontlik ontvang word, eers wil verifieer.
Die voertuig se nommerplaat is ook onsigbaar.