26 April 2022
Die Suid-Afrikaanse Spesiale Risiko Versekeringsvereniging, SASRIA, sê hy kan nie bekostig om die land se besighede te dek nie as daar ‘n herhaling van verlede jaar se Julie-onluste in die afsienbare toekoms plaasvind.
SASRIA is ‘n staatsbeheerde onderneming wat spesifiek in die lewe geroep is om skade te dek wat deur betogings en ander openbare onrus veroorsaak word.
In ‘n voorlegging aan die Nasionale Raad van provinsies het die onderneming aangedui dat hy na afloop van verlede jaar se gebeure, meer as R37-miljard aan skade-eise uitbetaal het.
Volgens SASRIA kon hy nie ‘n her-versekeraar – enige plek in die wêreld kry – wat bereid is om wéér ‘n gebeurtenis van dié omvang te onderskryf nie.
Hy het bygevoeg dat vroeë waarskuwingstekens reeds daarop dui dat ‘n herhaling van die gebeure kan plaasvind indien daar nie dringend stappe gedoen word om dit te voorkom nie.
Daar is ook gewaarsku dat groot kleinhandel-kettinggroepe beleggings aan die land kan onttrek indien die versekering teen openbare onrus nie gebied word nie.