1 September 2022
Die verhoor van een van die vermeende aanstigters van verlede jaar Julie se geweld in Gauteng en KwaZulu-Natal, Mdumiseni Zuma, is weer in die landdroshof op Pietermaritzburg uitgestel.
Dit volg nadat die beskuldigde se prokureur die hof vanoggend meegedeel het dat hy hom van die saak gaan onttrek.
Zuma – wat geen bekende verwantskap met die voormalige staatshoof het nie – word daarvan beskuldig dat hy mense aangehits het om openbare geweld te pleeg – en brande te stig – wat tot die vernietiging van die Brookside winkelsentrum in Pietermaritzburg gelei het.
Sy verhoor – wat vandag sou begin nadat dit in Augustus ook uitgestel is – sal nou na verwagting op die 16e September hervat.
Die Nasionale Vervolgingsgesag was nie gelukkig met die verloop van verrigtinge nie en sê hy het ‘n sterk saak teen Zuma – wat ‘n sekuriteitswag by die winkelsentrum was, ten tyde van die geweldpleging.