23 Mei 2023
‘n Inwoner van Letland – wat by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem is vir die besit van kokaïen ter waarde van meer as R2-miljoen rand – het sy borgtogaansoek laat vaar.
Die 29-jarige Raitis Dreijers het vlugtig in die landdroshof in Kempton Park verskyn.
Volgens kolonel Philani Nkwalase, ‘n woordvoerder van die Valke, was die kokaïen met ‘n vloeistof deurweek en in matte gedroog wat in Dreijers se bagasie was.
Hy het vermoedelik van Brasilië na Johannesburg gereis en is aanvanklik na doeane begelei nadat hy deur die departement van binnelandse sake toegang tot die land geweier is.
Nkwalase sê sy sak is deur doeanebeamptes deursoek, en hulle het kokaïen gevind wat nagenoeg 8,6 kilogram geweeg het.
Die saak is tot 31 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel.
Foto: Cliff the Reporter (twitter)
