10 Februarie 2023
Regter Nathan Erasmus het vanoggend regspanne in die hooggeregshof in Kaapstad opdrag gegee om binne twee weke Zandile Mafe na ‘n inrigting te verwys.
Dít nadat Mafe se regsverteenwoordigers en die staat ooreengekom het dat hy vir psigiatriese waarneming gestuur moet word.
Mafe het egter geweier om na die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal te gaan omdat hy na bewering ‘n slegte ervaring gehad het toe hy verlede jaar daarnatoe gestuur is.
Die 50-jarige Mafe word daarvan beskuldig dat hy die parlementsgebou aan die begin van verlede jaar aan die brand gesteek het. Hy staan tereg op aanklagte van brandstigting en terrorisme.