13 Maart 2023
Die spesiale raadsvergadering van die Tshwane metroraad – waartydens ‘n nuwe speaker verkies moes word – is met twee ure uitgestel.
Die stadsbestuurder, Johann Mettler het dié besluit geneem nadat die vergadering in chaos gedompel is toe die ANC se raadslede op ‘n lid van ActionSA toegesak het.
Lede van die veelparty koalisie het hulle hande vol gehad om die ontstoke raadslede te probeer bedaar.
Die ANC het ActionSA daarvan beskuldig dat hulle nie vroue beskerm nie, nadat Nkele Molapo se lidmaatskap beëindig is oor bewerings dat sy betrokke was by die pogings om die koalisie se burgemeesterskandidaat te dwarsboom.