25 Oktober 2023
Kiesers in Switserland, een van die welvarendste lande ter wêreld, het Sondag na die stembus gegaan om nuwe federale parlementslede te verkies ná ʼn verkiesingsveldtog wat deur ernstige vrae oor die voorspoed, veiligheid en vryhede in hierdie Alpe-land gekenmerk is. Hoewel Switserland nie ʼn lid is van die Europese Unie (EU) of Navo nie, is sy toekoms ten nouste verbind aan Europa. Politieke neigings in dié klein landjie hou dus ook meestal verband met die breë politieke neigings in die res van Europa.
In Sondag se verkiesing het die regse Switserse Volksparty ʼn reuse-oorwinning behaal deur 29% van die stemme op federale vlak op hom te verenig. Die linkse Sosiaal-Demokrate het die tweede plek behaal met 18% van die stemme en die sentrumregse party, Die Mitte, was derde met 15% van die stemme.
Die Switserse Volksparty se verkiesingsveldtog het op drie kwessies gefokus. Eerstens is die party sterk gekant teen massa-immigrasie en het onderneem om onwettige immigrasie hok te slaan en Switserland se bevolking, wat tans 8,7 miljoen is, teen 2050 tot niks meer nie as 10 miljoen mense te beperk. Tweedens het die party sterk gefokus op tradisionele waardes en is ʼn omvattende veldtog teen die sogenaamde woke-ideologie gevoer. Derdens het die party sterk standpunt ingeneem ten gunste van Switserland se onverbondenheid en onafhanklikheid van die EU en wil die party hê dat Switserland sy neutraliteit in Europese en globale kwessies versterk.
In onlangse verkiesings in twee Duitse deelstate, Hesse en Beiere, het ons dieselfde neiging gesien met kiesers wat positief op boodskappe teen massa-immigrasie en die verval van tradisionele waardes gestem het. Sondag het kiesers in die klein Duitstalige semi-outonome provinsie in die noorde van Italië, Suid-Tirool, ook vir verskeie nuwe regse partye gestem. Byna 70% van stemme in Suid-Tirool is ten gunste van regse partye, wat teen massa-immigrasie gekant is, uitgebring.
Volgende maand sal kiesers in Nederland na die stembus gaan in wat as ʼn historiese verkiesing bestempel word. Die huidige Nederlandse premier, Mark Rutte, tree ná 12 jaar uit. Hy is reeds die langsdienende Nederlandse premier. Daarmee saam voorspel peilings dat Rutte se party, die Volksparty vir Vryheid en Demokrasie, saam met sy drie koalisievennote almal lelik gaan pak kry by die stembus. Drie regse partye, Die Party vir Vryheid en twee nuwe partye, die Nuwe Sosiale Kontrak en die BoerBurgerBeweging gaan na verwagting saam tot soveel as 40% van die stemme op hulle verenig.
Volgende Junie sal kiesers in al 27 EU-lidlande na die stembus gaan om lede vir die Europese Parlement te verkies. Kiesers in Oostenryk en België sal ook aan parlementêre verkiesings deelneem en in beide lande loop regse anti-immigrasie partye voor in die peilings.
Daar is tans ʼn reuse reaksie in Europa op die gevolge van massa-immigrasie, die langdurige oorlog in Oekraïne, stygende lewenskoste, insluitende energiekoste, en algemene kommer oor die toekoms van Europa en die Weste. Die vraag moet gevra word of hierdie reaksie nog tot wesenlike beleidsveranderings kan lei. Het massa-immigrasie, kulturele verval en die verrotting van Westerse samelewings nie reeds te ver gegaan nie? Ons sal oor die volgende paar maande sien of die negatiewe neiging in Europa deur nuwe politieke leierskap opgelos kan word.
Foto: AP News