Nuuskommentaar: 28 Julie 2022
Deur: Chanté Kelder
Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, wil hê dat alle skole ’n 50/50-verhouding van wit tot swart leerlinge moet hê. Sy het dié aankondiging Dinsdag tydens ’n nuuskonferensie gemaak en behoorlik die wenkbroue laat lig en ’n hele paar mense laat kopkrap oor die logistieke werkbaarheid van hierdie idee.
Die ANC se beleidskonferensie vind eerskomende Vrydag plaas en, of dit nou sin maak of nie, hierdie is een van die besprekingspunte op die agenda. Wanneer ons dink aan kwessies wat eerder aandag moet geniet op só ’n konferensie besef ons opnuut hoe vernietigend die denkwyse van die regerende party is dat iets so verregaande soos ’n 50/50-verhouding van wit tot swart leerlinge in skole, in alle erns, ’n besprekingspunt is.
Sisulu voer aan dat mense wat saam groot word ’n band vorm en mekaar dan beter verstaan. Dit klink na ’n suiwer rede om só beleid te implementeer maar as Suid-Afrikaners weet ons reeds dat enigiets wat met goeie voorneme aan ons voorgelê word uit alle hoeke bekyk moet word voor ons te opgewonde raak daaroor.
Terwyl sommige mense grappenderwys kopkrap oor die wiskunde agter dié idee, wys ander die waarskynlikheid uit dat hierdie beleid net ’n groter teiken op Afrikaanse skole gaan sit. Afrikaanse skole, wat tans meerderheid wit leerlinge het, sal waarskynlik verplig word om die 50/50-beleid te implementeer terwyl dieselfde nie sal geld vir skole in townships nie.
Benewens die vanselfsprekende probleem met die implementering van hierdie tipe beleid is daar ’n groter vraag oor die effektiwiteit daarvan om verdraagsaamheid deur beleidmaking af te dwing, veral op kinders. Daar is meer as genoeg bewyse in die geskiedenis van die mensdom om te getuig dat dit selde goed eindig wanneer mense gedwing word om basies enigiets te doen.
Inteendeel, nes die Menseregtekommissie se voorstel dat diversiteitsopleiding verpligtend moet wees by alle skole, sal hierdie beleid in alle waarskynlikheid net ’n kultuur van onverdraagsaamheid verder aanvuur. Daar is ’n paar politici wat dalk eerder diversiteitsopleiding moet ondergaan en introspeksie moet doen voor hulle dit van kinders verwag.
Respek en verdraagsaamheid is beginsels wat in die eerste plek by ’n kind se huis gekweek word en dan word dit van daar beïnvloed deur die media en hulle ervaring by die skool. Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het in reaksie op Sisulu se voorstel gesê dat minder politieke inmenging nodig is by skole, veral wat taalbeleid en rassesamestelling aanbetref.
Dit blyk dat meeste mense dit eens is, laat kinders toe om kinders te wees, leer hulle van kleintyd af om teenoor almal respekvol te wees en laat vriendskappe, verdraagsaamheid en begrip organies uit daardie basiese grondslag voortspruit.