Nuuskommentaar: 8 April 2022
Deur: Flip Buys
Die idee van “burgerskap” was vanaf die tyd van die antieke Griekse en Romeinse republieke ’n voorreg wat deur pligte verdien moes word. Burgerskap was eeue lank beperk tot mans wat dit deur militêre diensplig verdien het. In die praktyk was burgerskap net vir ’n minderheid inwoners beskore wat dit op grond van hulle bydrae verkry het.
Die siening dat burgerskap “verdien” moes word, is eers in die twintigste eeu finaal laat vaar toe Switserland in 1971 die koppeling tussen stemreg en militêre diensplig afgeskaf het. Dit was ook die regte stap omdat daar meer maniere as net verdediging is waardeur mense ’n diens aan hulle medemens kan lewer.
Die probleem is dat die idee van “verdienstelike burgerskap” toe nie net afgeskaf is nie, maar vervang is met onverdiende “regte” op bykans alles vir almal. In feitlik alle Westerse state is enige inwoner vandag geregtig op die volle voordele van die welsynstelsel, ongeag of hulle daartoe bygedra het of dit op enige manier verdien. Die gevolg is dat al minder mense in hierdie state tot hulle lande wil bydra, en al meer die onverdiende regte wil geniet.
Linksgesindes in hierdie lande het die regte- en welsynstelsel van hulle lande ook uitgebrei na die burgers van veral arm nie-Westerse lande wat daarheen migreer het. Terselfdertyd lei dalende geboortekoerse daartoe dat die krimpende werkende bevolking al minder in staat is om vir die duur welsynstelsels te betaal. Die toename in die skuldlas van Westerse welsynstate spruit dus daaruit dat die aantal belastingbetalers afneem en die belastingontvangers toeneem.
Dit is moeilik om uit hierdie knyptang van dalende staatsinkomste en stygende -uitgawes te ontsnap, want die meerderheid mense wat voordele uit die staatskas kry, stem partye aan bewind wat hierdie herverdeling steun. Die finansiële volhoubaarheid van hierdie ryk lande kom al meer in gedrang. Desnieteenstaande is linkse drukgroepe steeds besig om nog groter herverdeling te ondersteun. Hierdie keer bedoel hulle met herverdeling nie net vanaf die ryker na die armer burgers in hul eie lande nie, maar vanaf ryk lande na arm lande in die wêreld.
Hierdie siening van globale herverdeling het tydens die Covid-19-pandemie verdere momentum gekry toe talle stemme opgegaan het dat dit onregverdig is as ryker lande en mense beter mediese behandeling as diegene in arm lande kry. Dit sal natuurlik wonderlik wees as dit moontlik was om alles gratis vir almal te gee. In die praktyk het sulke idealisme nog altyd op die harde rotse van ekonomiese werklikhede gestrand.
Die geskiedenis bewys dat niks gratis is nie; die vraag is net wie daarvoor betaal. In Suid-Afrika het die regering ook duur en onbekostigbare planne vir die “reg” op behuising, mediese sorg, staatspensioene en onderwysdienste.
Daarom het dit wêreldwyd tyd geword om weer te kyk na “verdienstelike” burgerskap omdat onverdiende “regte” tot politieke verdrukking en armoede lei, soos bewys deur die geskiedenis van sosialisme. Die Bybel sê ons moet die “verdienstelike” armes help, soos ouer mense en diegene wat nie kan werk nie. Die res moet gehelp word om hulself te help.