6 April 2022
Die polisie in die Wes-Kaap het ‘n 34-jarige verdagte aangekeer in verband met die moord op die 65-jarige Inge Koch, en die poging tot moord op haar man, Frans, op die plaas Klipheuwel by Moorreesburg.
‘n Polisiewoordvoerder, sersant Wesley Twigg, het nie meer besonderhede oor die verdagte of moontlike medepligtiges bekend gemaak nie.
Die egpaar is gister aangeval toe hulle besoek by hul seun afgelê het.
Uit voorlopige ondersoeke wil dit voorkom asof Koch met ‘n skerp voorwerp gesteek is en op die toneel aan haar wonde beswyk het.
Intussen het die VF Plus in reaksie op die voorval gesê dat dit dien as ‘n duidelikw bewys dat dié soort misdaad tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word.
Die VF Plus-LP en provinsiale leier in die Wes-Kaap, dr. Corné Mulder sê hy stem saam met Agri Wes-Kaap dat een plaasmoord een te veel is.
“Ons sal aanhou veg vir ʼn noodsaaklike spesiale landelike beveiligingseenheid wat hom toespits op die voorkoming van plaasaanvalle en wat in samewerking met boere en ander veiligheidsforums hierdie soort misdaad bekamp.”