23 Desember 2021
Suid-Afrikaners sukkel om hul gunsteling bros aartappelpeuselhappie in die winkels te kry.
‘n Tekort aan aartappels is die rede vir dié frustrasie midde-in die feestyd, wat in die meeste huishoudings kuiertyd is.
PepsiCo – wat die handelsmerke Simba en Lays besit – het gewaarsku dat daar tans ‘n tekort aan sommige geure en grootte verpakkings voorkom.
Die aartappelbedryf is vanjaar deur ‘n aantal uitdagings in die gesig gestaar, onder meer ryp-skade en swaar reënneerslae wat die oeste negatief beïnvloed het.
Die senior adjunkpresident van ‘n afdeling van PepsiCo belas met Suid-Afrika, John Stevenson, sê dit is oor die algemeen moeilik om goeie gehalte aartappels vir skyfies te kry en pryse is boonop al vir ‘n geruime tyd baie hoog.
Die prys van aartappels het vroeër vanjaar ‘n nuwe hoogtepunt bereik. Teen meer as R97.00 vir ‘n 10kg-sakkie was dit ongeveer 16% duurder as verlede jaar se hoogtepunt gedurende Oktober.
PepsiCo sê egter verbruikers moenie bekommer nie, hulle maak plan om die voorraad aan te vul en alternatiewe voorsieningsbronne op te spoor vir ’n kraakvars Kersfees.