14 Junie 2021
Die Bromhof-dierekliniek in Randburg het op hulle Facebook-blad bevestig dat een van hulle veeartse, die 43-jarige dr. Corli van der Walt die afgelope naweek doodgeskiet is, terwyl sy op pad werk toe was.

Die polisiewoordvoerder, kaptein Mavela Masondo sê Van der Walt is omstreeks 08:00 Saterdagoggend op die hoek van Bell-rylaan en Nordenstraat in Rangeview, Krugersdorp met verskeie skietwonde in haar bo-lyf in haar motor gevind.
Volgens die Bromhof-dierekliniek is Van der Walt reeds die afgelope vier jaar deel van die span.
Hulle meen sy het altyd die ekstra myl vir haar pasiënte geloop.