30 Junie 2022
Die Nasionale Metaalwerkersvakbond van Suid-Afrika (Numsa) en die mynwerkersvakbond (NUM) het Eskom se loonaanbod van 7% verwerp.
Die vakbonde het ‘n kort ruk gelede in ‘n verklaring gesê dat hulle besluit het om die aanbod te verwerp na ‘n massa vergadering gisteraand. Werknemers van die kragvoorsiener en lede van die twee vakbonde het bedrywighede by Eskom tot ‘n stilstand geruk, wat beteken dat fase 6-beurtkrag ingestel moes word.
Die aankondiging kom ‘n dag nadat die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan ingegryp het en geëis het dat die werknemers terugkeer werk toe.
Die vakbonde sê hulle is teleurgesteld deur die enkelsyfer loonaanbod. Hulle beplan om môre op te ruk na Eskom se Megawatt Park-hoofkantore in Johannesburg.
Verder eis NUM en Numsa dat die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, die bedryfshoof, Jan Oberholzer en die algemene bestuurder van menslike hulpbronne, Thulane Ngele afgedank moet word.