7 Maart 2022
Die Universiteite-vakbond, UASA, het openbare hoëronderwysinstellings tot môre (Dinsdag 8 Maart) kans gegee om hulle verpligte inentingsbeleid te hersien alvorens die organisasie met regstappe sal begin.
Die organisasie – wat studente en personeel aan universiteite regoor die land verteenwoordig – is besig om ‘n groepsgeding teen verskeie instellings voor te berei aangesien die beleid – volgens hom – irrasioneel en medies ongeregverdigbaar is.
UASA voer aan dat dit die regte op menswaardigheid, liggaamlike integriteit, onderwys en arbeidsverhoudinge skend.
Enkele dae ná die aanvang van die akademiese jaar is klasse by verskeie instellings deur betogings ontwrig, met studente wat teen die beleid gekant is.
UASA wil hê dat die COVID-19 verpligte inentingsbeleid tersyde gestel en ongrondwetlik verklaar word.
Die meerderheid universiteite het die veiligheid van die entstof – en die noodsaaklikheid van die beleid beklemtoon – om die toekoms van ‘n persoonlike leer-omgewing te verseker.