1 Desember 2022
Die Universiteit Stellenbosch sê sy bestuur is steeds besig om die Khampepe-verslag, oor die instelling se taalbeleid, te bestudeer.
Die US het in ‘n verklaring bevestig dat hy onlangs die verslag van die onafhanklike Khampepe-kommissie van ondersoek na beweerde rassisme by die Universiteit van oudregter Sisi Virginia Khampepe, ‘n afgetrede regter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika, ontvang.
“Die US is daartoe verbind om die aanbevelings van die verslag te oorweeg ten einde te verseker dat die kampusgemeenskap versterk word as divers, inklusief en as ‘n plek van behoort waar navorsing en onderrig van wêreldgehalte kan floreer,” lui die verklaring.
Die universiteit se reaksie kom nadat die DA gedreig het met regstappe indien die universiteit sou voortgaan met die marginalisering van Afrikaans.
LEES OOK: UNIVERSITEIT STELLENBOSCH SE TAALBELEID BLY VIR EERS IN SY HUIDIGE FORMAAT
Die US het egter benadruk dat die rektor en visekanselier, prof Wim de Villiers opnuut sy versekering gegee het dat geen verandering aan die US se taalbeleid tans voorsien word nie aangesien die hersieningsproses in 2021 voltooi is.
Die implementering van die hersiene beleid het in Januarie 2022 afgeskop. Die taalbeleid is regtens as konstitusioneel grondig bevestig. Dít word nie aan enige eksterne invloede toegeskryf nie, maar is danksy die Universiteit se gesonde oorsigbestuursbeginsels as ‘n goedbestuurde instelling met duidelike regulasies en beleide.
“Die huidige taalbeleid by die US vier die kreatiewe waarde van die diversiteit van die sprekers van die amptelike onderrigtale wat by die US gebruik word. Dit is in ooreenstemming met die Departement van Hoër Onderwys se nasionale riglyne vir veeltaligheid by universiteite.”
Die sorgvuldige oorweging van die verslag geniet tans die Universiteitsbestuur se volle aandag. Besliste optrede en verdere aankondigings soos nodig, sal volg.
Foto: Universiteit Stellenbosch