Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy hofsaak teen die Universiteit van Suid-Afrika, Unisa, se Engelse taalbeleid gewen.
Die Grondwethof het ten gunste van AfriForum in die saak vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by dié afstandsonderriguniversiteit beslis.
Die saak is op 20 Mei vanjaar aangehoor en uitspraak is voorbehou, nadat die Hoogste Hof van Appèl ten gunste van AfriForum beslis het – met die bevinding dat Unisa se taalbeleid nie in ooreenstemming met grondwetlike voorskrifte aanvaar en ingestel is nie.
Unisa het die Grondwethof daarna om verlof tot appèl teen dié uitspraak genader.
Die universiteit het in 2016 ’n nuwe taalbeleid ingestel waaruit Afrikaans in sy geheel uitgelaat is.
Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, is die uitspraak, ná ’n stryd van meer as vyf jaar, ’n oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en taalregte in die land.
“Hiermee breek ’n nuwe hoofstuk in die beregtiging van diegene wat nie moedertaalsprekers van Engels is nie, in tersiêre onderrig aan. Dit is goed en wel om te sê dat privaat onderriginstellings vryheid het om onderrig in enige taal van hulle keuse aan te bied, maar om as taal van onderrig aan ’n tersiêre instelling gebruik te word, is van groot belang vir die voortbestaan en volgehoue ontwikkeling van enige taal. Daarom kan die uitfasering daarvan aan enige instelling nie sondermeer aanvaar word nie. Die hof het vandag hierdie punt met die uitspraak bevestig en die reg tot toegang tot Afrikaanse moedertaalonderrig aan openbare én privaat instellings vir studente van alle inkomstegroepe bevestig,” sê Bailey.
Fotokrediet: Unisa-facebookblad