30 Oktober 2022
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga sê haar departement is gereed vir die matriekeindeksamen wat môre begin.
Die matriekklas van 2022 sal die eksamen afskop met Engels se eerste vraestel. Die minister het vanoggend ‘n mediakonferensie gehou oor die eksamen. Volgens haar sall byna nege-honderd-duisend matrikulante die eksamen aflê.
Sy sê alle matrikulante en personeel het vorms onderteken waarin hulle onderneem om eerlik te wees tydens die eksamen en om nie aan oneerlike aktiwiteite soos die uitlek van vraestelle deel te wees nie.
Die direkteur van kurrikulum in die departement, Moses Simelane sê hierdie eksamen sal een van die mees uitdagende eksamens wees weens die uitwerking wat die Covid-19-pandemie op dié groep leerlinge gehad het.
Vanjaar se matriekleerlinge was in graad 10 met die aanvang van die pandemie in 2020. Daardie skooljaar is gekenmerk deur baie min kontakklasse, en eerder aanlyn onderrig. Dit was egter nie in alle gevalle moontlik nie.
Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, Chris Klopper meen ook dat die uitwerking van die Covid-19-pandemie met die uitslae van dié groep duidelik sal word.
Die eksamen kom 6 Desember tot ‘n einde, en die uitslae word op 20 Januarie 2023 bekend gemaak.