Regter Piet Koen het uitspraak voorbehou in die saak waarin oudpresident Jacob Zuma vra dat die staatsaanklaer, advokaat Billy Downer SC, homself aan Zuma se korrupsiesaak onttrek.
Die saak is tot 26 Oktober 2021 uitgestel, nadat die regter aangedui het dat hy verskeie weke gaan nodig hê om die argumente te verwerk.
Zuma huldig die mening dat hy kwytgeskeld sal word indien adv. Downer nie toegelaat word om as staatsaanklaer op te tree nie.
Die voormalige staatshoof se regsverteenwoordiger, advokaat Dali Mpofu, het in die hof aangevoer dat daar op Zuma se reg op ‘n billike verhoor inbreuk gemaak word, aangesien adv. Downer nie onpartydig is nie.
Adv. Mpofu sê adv. Downer het teen sy kliënt getuig tydens die DA se aansoek om hersiening van die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om nie voort te gaan om Zuma te vervolg nie.
Zuma is intussen bekommerd omdat inligting oor sy gesondheidstoestand glo uitgelek is.
Adv. Mpofu sê Zuma sal verdere stappe doen as president Cyril Ramaphosa nie sy bewering, dat Downer sy mediese inligting laat uitlek het, na behore ondersoek nie.
Fotokrediet: AFP/Phill Magakoe