Nuuskommentaar: 10 Januarie 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Oor ʼn paar dae, op 22 Januarie, breek die Chinese nuwe jaar aan. Die afgelope paar weke se gebeure gee egter vir die Chinese min rede om fees te vier. Die groot jaarlikse vakansieseisoen wat oor sowat veertig dae strek, en waartydens miljoene Chinese werkers na plattelandse nedersettings terugkeer en ryker Chinese oorsese vakansies onderneem, het die afgelope Saterdag afgeskop.
Vanjaar word dié feestelike tyd in China egter deur ʼn Covid-19-krisis gedomineer wat steeds net verder uitkring. Verlede week het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) fel kritiek teen die Chinese owerhede se verslagdoening van Covid-19-gevalle uitgespreek. Dit is duidelik dat miljoene Chinese tans ernstig siek is en dat daar nie genoeg medikasie en hospitaalbeddens beskikbaar is nie.
Die Europese Unie het verlede week sy lidlande aangeraai om reisbeperkings in te stel vir alle Chinese wat na Europa reis. Ook die VSA en tientalle ander lande regoor die wêreld het nuwe reisbeperkings vir Chinese ingestel, skaars drie weke nadat Chinese weer toegelaat is om oorsee te reis.
China se huidige uitdagings hou wesenlike globale gevolge en selfs risiko’s in. In die era van president Xi Jinping, het die Chinese regering op die meeste beleidsterreine toenemend verdedigend en ideologies begin optree. Dit is dus nie verrassend dat president Xi verlede week dreigend was in sy retoriek teenoor lande wat reisbeperkings teen Chinese ingestel het nie.
Verlede jaar het president Xi, nadat die Amerikaanse regering stappe geneem het om die uitvoer van halfgeleier mikroskyfies na China te beperk, gesê dat sy regering lande wat aanhou probeer om China se vooruitgang te vertraag se “koppe bloedig teen ʼn Groot Muur van staal sal slaan.”
Chinese dreigemente bly nie meer net by retoriek nie. In Desember was daar weer ʼn gewelddadige aanval deur Chinese soldate op Indiese soldate in ʼn betwiste gebied in die Himalajas. Die gewelddadige onderdrukking die afgelope dekade van minderhede in die weste van China is ook bekend.
China se uitlokkende gedrag was egter die afgelope paar jaar steeds redelik subtiel en dus anders as byvoorbeeld Rusland met sy halsoorkop inval in Oekraïne. Dit sou egter verkeerd wees om die Chinese se doelwitte te onderskat. Die Chinese militêre spandering het sedert 1990 tienvoudig gegroei. China is gereed vir oorlog.
Verlede jaar het president Xi gesê dat Taiwan se huidige selfregerende status ʼn anomalie is wat nie na volgende geslagte oorgedra moet word nie. China het tans grensgeskille met Japan, Indië en Nepal. Verder eis die Chinese soewereiniteit oor byna die hele Suid-Chinese See. Die Chinese regering stel homself ook ideologies direk op teen die Weste en voer daardeur ʼn stryd om politieke en ekonomiese invloed op elke kontinent.
Die Chinese ekonomie is hier op die vooraand van die Chinese nuwe jaar egter in diep moeilikheid. Die Covid-pandemie eis sy tol saam met ʼn eiendomskrisis, ʼn verouderende bevolking en ʼn meer selfgeldende strategie vanaf die Westerse lande asook demokrasieë in Asië om China se groeiende invloed te stuit.
China se invloed op globale handel is enorm en China is tans die grootste uitlener aan veral arm lande in Asië en Afrika. Sou die huidige ekonomiese probleme in China toeneem en sou China toenemend as ʼn destabiliserende mag in Asië en die Stille Oseaan-gebied optree, kan dit in 2023 tot ernstige internasionale risiko’s lei.