3 Mei 2021
Nóg ’n plaas in Gauteng is onder kwarantyn geplaas weens voëlgriep.
Dit is die tweede plaas aan die Oos-Rand waar die dodelike siekte uitgebreek het en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het reeds begin om diere op dié braaikuiken-teelplaas van kant te maak.
Dit is nie tans bekend hoeveel kuikens op dié plaas daardeur beïnvloed word nie. By die eerste plaas is byna 250 000 lêhenne van kant gemaak.
Die pluimveevereniging sê die tweede uitbreking is soortgelyk aan die eerste en dat daar nie ‘n wesenlike invloed op die huidige handelsbeperkings behoort te wees nie.
Namibië verbied die invoer van pluimveeprodukte uit dié gebied waar die twee uitbrekings voorgekom het terwyl Botswana en Mosambiek alle pluimveeprodukte uit die hele Suid-Afrika verbied het. Lesotho verbied op die oomblik die invoer van eiers uit Gauteng uit.