18 Augustus 2022
Middelburg in Mpumalanga, wat deur die Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit beheer word is tans in chaos gehul te midde van betogings.
Die VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, Johnathan Haarhoff sê gewelddadige betogings is steeds aan die orde van die dag terwyl die regering van Mpumalanga hom daarteen blind staar. Hy sê ‘n munisipale betoging in Middelburg het gister ‘n kookpunt bereik waartydens twee betogers doodgeskiet en nog twee kritiek gewond is.
Hy sê die voorval was glo toe veiligheidswagte op die toneel hulself teen aggressiewe stakers beskerm het nadat ‘n skietgeveg uitgebreek het. Die betogers het glo selfs ‘n paramedikus aangerand terwyl hy probeer het om noodbehandeling op een van die gewondes op die toneel toe te pas.
Haarhoff sê dit is betreurenswaardig dat betogings nou so gewelddadig raak dat dit tot lewensverlies lei.
Die VF Plus het vanoggend weer ‘n dringende skrywe ingedien by die premier se kantoor oor die aangeleentheid en sal aanhou druk toepas tot daar optrede is.