10 November 2022
Die polisie in Johannesburg het meer besonderhede bekend gemaak oor vanoggend se skietvoorval in Heidelbergweg – naby die sakekern – waartydens twee mense doodgeskiet en elf in hegtenis geneem is.
Luidens ‘n voorlopige ondersoek wil dit voorkom asof ‘n bende van twintig rowers op ‘n perseel toegeslaan het wat verskeie sake-ondernemings huisves.
Behalwe dat hulle beplan het om verskeie ondernemings te beroof, het hulle ook met ‘n vragmotor opgedaag en sonpanele geteiken.
Privaat veiligheidsbeamptes het saam met die polisie gereageer nadat daar alarm gemaak is en ‘n skietgeveg het tussen die booswigte en wetstoepassers uitgebreek.
Twee rowers is noodlottig gewond en elf is aangekeer.
Daar is op tien vuurwapens beslag gelê en ‘n grootskaalse soektog na die oorblywende bendelede is van stapel laat loop.