15 Mei 2023
Die Tshwane-metro en die bestuur van die Voortrekkermonument het ‘n langtermynsamewerkingsooreenkoms gesluit om veiligheid by die Voortrekkermonument te verbeter.

Die gesprek het gekom nadat daar verskeie veiligheidskwessies aan die lig gekom het oor die heiningbeveiliging by die Voortrekkermonument waarvoor die metroraad verantwoordelik is.
Volgens ‘n verklaring deur die VTM het die monument verskeie maatreëls in plek gestel vir die ekstra beveiliging van die terrein, soos veldwagters, honde- en perdepatrollies, kamerastelsels, oopsny van bebosde gebiede en nog vele meer.
Luidens ‘n verklaring van die Tshwane-metro sal hulle nou saam met die Voortrekkermonument werk om onder meer kabeldiefstal te bekamp, gebiede te identifiseer waar misdade floreer en ‘n forum te stig wat sal help om misdaad in die gebied te bekamp.
Die burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe- en gedeelde dienste, Kingsley Wakelin sê kentekens sal op die terrein geplaas word om mense te waarsku van gevaarlike areas. Hy sê die vergadering met die bestuur van die monument was ook belangrik om te bepaal wie vir watter deel van die terrein verantwoordelik is.