14 Maart 2024
Die Tshwane-metro sê danksy sy hernude aanslag met die #TshwaneYaTima-veldtog kan hy reeds ‘n groot verskil sien en voel wat die metro se daaglikse inkomste betref.
Inwoners en sake-eienaars wat nie hulle munisipale-rekeninge betaal nie se dienste word as deel van die veldtog onttrek. Die burgemeesterskomiteelid vir finansies in die Tshwane-metro, Jacqui Uys sê met die koers wat tans gevolg word, sal ‘n bykomende R500 000 in Maart ingesamel word.
Sy sê die vyf wyke wat die meeste geld skuld kon geïdentifiseer word.
Inwoners van wyk 42, insluitend Waterkloof en Monumentpark skuld die metro R756,7-miljoen met 53,68% van inwoners wat getrou betaal. Wyk 101 wat Silverlakes en Boschkop insluit skuld R726,5-miljoen met 40,23% van inwoners wat getrou betaal.
In die derde plek is wyk 84 insluitend Queenswood en Kilner Park. In hierdie wyk betaal 29,69% van inwoners hulle rekeninge, terwyl die skuld R485,3-miljoen beloop.
Wyk 17 in Mamelodi Wes is in die vierde plek ten opsigte van skuld en laastens in wyk 21 in Mabopane word R449,5-miljoen geskuld, met 12,9% van inwoners wat hulle rekeninge betaal.