19 April 2022
Die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter sê die afgelope Paasnaweek was nié so “suksesvol” vir die kragvoorsiener soos verwag nie.
Dié naweek was veronderstel om gebruik te word om noodreserwes op te bou, om eenhede te herstel en om infrastruktuur te voltooi. Volgens De Ruyter het die weerstoestande dit egter moeilik gemaak met van die steenkool wat te nat is om te gebruik.
Eskom se groepbestuurder vir opwekking, Phillip Dukashe het ook benadruk dat die weersomstandighede bygedra het tot fase 4-beurtkrag. Volgens hom was die vraag na elektrisiteit meer as verwag weens mense wat byvoorbeeld verwarmers gebruik het.
Hy sê hulle is hoopvol dat die situasie teen Donderdagmiddag of Vrydag sal verbeter, wat beteken dat beurtkrag moontlik teen dan opgeskort kan word.
Ten opsigte van die kragvoorsiener se finansies het De Ruyter gesê dat munisipale skuld aan Eskom nagenoeg R7,2-miljard beloop. Hy meen dit sou die kragvoorsiener in ‘n beter posisie geplaas het om die broodnodige instandhouding van Eskom se infrastruktuur te doen.
Volgens die uitvoerende hoof vir transmissie, Segomoco Scheepers werk Eskom saam met die wanbetalende munisipaliteite om betalings te probeer verseker. Hy sê die kragvoorsiener werk ook saam met die nasionale tesourie om betalingsooreenkomste te probeer bereik.