16 November 2022
Nóg een van Transnet se treine was in ‘n botsing betrokke – dié keer nadat dit in Mosambiek teen ‘n ander trein gebots het.
Die trein vol magnetiet was van Komatipoort na die hawe in Maputo onderweg toe dit teen ‘n trein van die Mosambiekse staatsvervoergroep, CFM, gebots het.
CFM se trein was besig met rangeerwerk op die hoofspoorlyn ten tyde van die voorval.
Die Transnet-trein is deur werknemers van CFM bedryf na aanleiding van ‘n ooreenkoms tussen die twee spooroperateurs wat bepaal wie die rollende materiaal bedryf wanneer dit buite Suid-Afrika se landsgrense bedryf word.
Die botsing het Dinsdag plaasgevind – skaars ‘n week nadat ‘n trein met steenkool van Transnet in Mpumalanga ontspoor het op pad na die Richardsbaaise hawe.