9 Oktober 2023
Saterdagoggend het die Palestynse terreurgroep Hamas, wat sedert 2007 in beheer van die Gasastrook is, ʼn reuse-verrassingsaanval oor die grens in Israel geloods. Die omvang van hierdie aanval, waarin honderde Israeliese burgers dood is, is die ergste in jare. Dit was laas in Oktober 1973, toe Egipte en Sirië ʼn verrassingsaanval vanuit twee fronte op Israel geloods het, dat die Israeliese weermag só onkant betrap is. Binne ure na Saterdag se aanval het Israel oorlog teen Hamas verklaar.
Oorloë vind egter byna nooit in isolasie plaas nie. Dit word gevorm deur globale gebeure en omstandighede. Hamas word deur die meeste Westerse lande as ʼn terreurgroep beskou, funksioneer reeds vir jare grootliks in isolasie en slaag ook nie daarin om met die Palestynse Fatah-beweging wat die Wesoewer beheer, saam te werk nie. Tog geniet Hamas sterk steun uit sommige Moslemlande en veral van Iran.
Die oorlog in Oekraïne het Westerse lande se aandag die afgelope byna twintig maande grootliks na Oos-Europa verskuif. Navo en sy lidlande het reeds enorme bedrae geld spandeer om Oekraïne te ondersteun, terwyl militêre-, intelligensie- en ander hulpbronne hulle fokus sterk op die Oekraïne-konflik herfokus het.
Rusland bied tans op verskeie fronte groot uitdagings vir Westerse moondhede soos die VSA en Europa. Behalwe vir die oorlog in Oekraïne speel Rusland ook ʼn groot rol in die Midde-Ooste en verskeie Afrika-lande soos Mali, Burkina Faso, Soedan en Niger. Dit alles kom ten koste van Westerse belange, maar ook demokrasie en stabiliteit in hierdie lande en streke.
Daarmee saam het spanning tussen die Weste en China die afgelope tyd ook wesenlik toegeneem. Die Chinese regering onder leiding van president Xi Jinping werk uiters strategies om Westerse belange stelselmatig op elke kontinent te verswak. Dreigemente om Taiwan te annekseer dwing die VSA om militêre en ander hulpbronne na die Stille Oseaan-gebied te kanaliseer.
Die realiteit is dat die wêreld reeds ʼn tydperk van wesenlike onstabiliteit ervaar, wat tot meer konflik, staatsgrepe, konflik en selfs oorloë lei. Demokrasie is op die agtervoet met meer lande wat minder demokraties raak as dié waar die demokrasie versterk word.
In onstabiele tye, en veral wanneer stabiele magte, in hierdie geval die Weste en veral die VSA, besig is om te verswak en arm aan leierskap is, gebruik groepe, individue en lande met duistere motiewe die geleentheid om geopolitieke skuiwe in hulle guns te maak.
Daar is die afgelope tyd ʼn persepsie geskep dat Israel se verhouding met ander lande in die Midde-Ooste besig is om vinnig te normaliseer terwyl groepe soos Hamas geen kans staan om die magtige regering en weermag van Israel uit te daag nie.
Hoewel die Palestyne in die Gasastrook reeds ʼn baie duur prys vir Hamas se lafhartige aanval Saterdag op onskuldige burgerlikes in Israel betaal, is dit duidelik dat Hamas nie alleen staan nie. Dié groep geniet die steun van Iran, Sirië en verskeie ekstremistiese Islamitiese groepe soos Hisbolla in Libanon, asook minstens die simpatie van lande soos Katar, Saoedi-Arabië, Rusland, China en ander Midde-Oosterse en Noord-Afrika Moslemlande.
Dit is duidelik dat ons naas die oorlog tussen Israel en Hamas, oor die volgende maande meer globale konflik moet verwag. Die geopolitieke tafel is tans ongelukkig eerder gedek vir oorlog as vrede.