29 Junie 2022
Daar is talle onduidelikhede oor wat moontlik kon lei tot die dood van 21 jong mense die afgelope naweek in die Enyobeni taverne in Oos-Londen in die Oos-Kaap.
Luidens verskeie berigte het die kinders moontlik weens koolstofmonoksied-vergifting gesterf.
Bronne na aan die ondersoek sê die kinders – wat tussen 13- en 17 jaar oud was – is waarskynlik onkant betrap deur gifgasse wat van ‘n kragopwekker afkomstig was wat in die taverne gebruik is.
Voorlopige toksikologie-uitslae van die nadoodsoodse-ondersoeke sal deur die loop van die dag – of môre – beskikbaar wees. Ondersoekers het ‘n kragopwekker – waarvan die brandstoftenk leeg was – op die toneel gekry.
Intussen berig Times Live dat twee amptenare van die Oos-Kaapse departement van gesondheid koolstofmonoksied-vergifting as die oorsaak tot die kinders se dood ontken. Die woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, Unathi Binqose sê sodra die uitslae gereed is sal dit openbaar gemaak word.